KLEIN DORPIE KASKANADES

So sit ek vandag en beplan aan ‘n projek wat oor ‘n maand moet gebeur. Alle rolspelers word genooi na die strategie vergadering, elkeen se rol mooi duidelik uitgestip en ook die gedagtegang agter die projek. Heel in my skik oor die oggend se werk, sit ek terug en geniet my koffie.

Skielik lui my kantoor foon, en nog voor ek behoorlik kan antwoord hoor ek my werkskolega aan die anderkant, duidelik ontsteld. Nee, Ani, nee!!! Jy kan my nie saam daardie mense in een vertrek sit vir die vergadering nie, ek sal dit nie kan doen nie. Ek probeer my bes om haar te kalmeer, want ek het hul almal se insette nodig, maar sy hyg na haar asem.

Lang storie kort, na ‘n ruk kom sy met die sak patats uit. Ani, F het my hart gebreek, T besoek my huis en my bed gereeld as sy vrou op sake uit die dorp is en S het ook al menige nag by my spandeer. Ani, ek en P is verloof, ek kan ontmoontlik nie saam hul al 4 in ‘n vergadering sit en my gedra nie.

O jinne, lyk my hier is meer pret as plig op hierdie dorpie van my.

 

Onskuldig is onskuldig 

Jirre mevrou, jy moet help, Benita  van die bank is asvaal en kortasem. Ek maak haar sit sodat ek die storie behoorlik kan volg. 

Gister het Linda van Landbank ‘n interdik teen Tilla van die Tronk kom kry. Tilla stuur dreig boodskappe aan Linda oor Linda kwansuis met Tilla se man vry, maar mevrou weet mos ek laaiks nie een van die twee tiewe nie, maar Linda is regtig onskuldig aan die een mevrou!

Ai Benita, en hoe weet jy dit? Maklik mevrou, ek was op daai dae by Tilla se man!

As iemand jou delete…

In Namakwaland het die mense verskeie maniere om hul woede jeens iemand anders verwoord.

Ek het al gehoor hoe iemand met ‘n blinde oog bekyk word, ‘n ander terug in sy ma se lende besweer word en nog ‘n ander vir die jirre terug word. Maar ‘n vriendin vertel my die week haar storie, so uit die hartjie van Springbok uit.

Sy is betrokke by ‘n man, beide ongetroud en smoorverlief. Als loop mooi vir hulle en die elektrisiteit tussen hulle kan ‘n plaas gemeenskap se mielies in popcorn verander. So raak hul met die tyd onafskeidbaar. Sy weet van vroeg af al van sy nalatige lammertjie, die laaste kind by ‘n vrou wat sy familie nie goedkeur nie, maar hy verseker haar daar is niks meer tussen hom en die ma van sy kind nie.  Ding is net, klein dorpies skinner, en sommer baie ook! 

So is vriendin weg vir werk en sy kry ‘n oproep dat die knaap nie heeltemal so getrou aan sy woord is nie. Vriendin strip haar op die plek, bel die knaap, drie maal onsuksesvol. Sy bel my, en snik soos sy huil. Ek het hom delete Ani, gedelete asof hy nog nooit bestaan het nie, maar nou kan my hart nie die pyn verstaan nie. 

Net omdat mens iets of iemand gedelete het, beteken dit nie mens kan die emosie rondom hulle ook delete nie.

Lost in translation 

Vandag op ‘n plaas, op die rand van waar die wêreld eindig, het ons ‘n gemeenskap vergadering. Dis Namakwaland, en die mens doen net Afrikaans en Namakwalands. Engels gebeur nie hier nie. So sit ons as staatsdepartemente elk met ons eie storie en diens wat ons vir die gemeenskap moet deurgee. Almal praat Afrikaans, soms glip die Namakwalands deur en die plaas gemeenskap luister en giggel saam. 

Dan is dit Dudu se beurt. Dis haar departement wat die dag se gebeure dryf. Maar Dudu doen net Engels. O jinne, dis ‘n moles! Sy belowe kos en klere vir minderjariges, toelae vir oumense en hul oppassers. Geld bewyse waarmee kos gekoop kan word. Die wêreld onder ‘n rooskleurige reënboog. Probleem is net, ons is op gatsrand! Die naaste dorp is 90km per grondpad vêr. Tog sien ek hier en daar ‘n ogie opflikker, ‘n voucher kan mos ‘n lekker wees, want ook maar mens, ook maar dors. 

Oudword is nie vir sissies nie….

Die somer het vroeg gekom die jaar. Dis nog Augustus, maar die kwik borrel reeds tussen 28 en 32. So gaan koop ek vanmiddag ‘n paar benodigdhede toe ek vir oom Karel opmerk. 

Oom Karel woon in die plaaslike ouetehuis, lank reeds deur sy familie en vriende versaak. Hy het Alzheimer, en word selde buite die ouetehuis opgemerk. Maar vandag is hy helder en oppad om suiker te gaan koop. Netjies aangetrek, langmou hemp, bypassende broek, leer gordel en ‘n das. Ek staan agter hom by die betaal punt. 

Die meisie lui die 250g suiker op en vra vir oom Karel of hy seker is dat daar niks anders moet by wees nie. Oom Karel is half verergelik, natuurlik is hy seker. So half vir homself en vir wie ook al wil hoor sê hy toe. Ek sal vir daai blêrrie nurse vandag suiker voer tot sy my veterskoene vir my terug gee. Ek kyk af na oom Karel se voete en sien die stoukies wat hy aan het. Ja my kind, sê hy, hulle vat als by jou af as jy oud raak, tot jou skoene. 

Ja oom Karel, oud word met waardigheid is nogal ‘n geneuk as mens nie die regte skoene het nie. 

OOK MAAR MENS…

So kruis my pad vandag met ‘n welgestelde boer, maar vandag beteken sy geld en aansien vir hom niks. Hy is teen die grond, stukkend. Sien die vrou met wie hy nou al 35 jaar getroud is, het ‘n verhouding met ‘n ander man. En nie sommer enige man nie, die blerrie dominee!

Hoe kompeteer jy met ‘n godsman, vra hy my. Hoe kan hy moerig raak vir die dominee wat weekliks oor vergifnis preek. Ek het nie woorde nie, sit en luister na die groot man met die ruwe hande en trane op sy wange. Ek probeer vasstel hoe hy by my uitgekom het, vra die nodige vrae, probeer kontinuïteit skep uit als wat hy vertel. 

Skielik kyk hy op, kyk my vas in die oë met seerkry blou oë. Weet jy Ani, wat is die ergste? My swaers het op hulle ingeloop terwyl die dominee poedelkaal voor haar gestaan het, en hy sê  die bliksem se peester is kleiner as die van ‘n lammertjie! 

Dat die duiwel nou so in die dominee moes invaar hier in onse dorpie. Wys jou net, ook maar mens, ook maar lus!